1. Ek as leerder besef dat onderlinge samewerking tussen my en die ander persone wat by my opvoeding en onderwys betrokke is, alleenlik suksesvol kan wees as alle partye ooreenkom oor die nastrewing van sekere waardes en beginsels.
1.1 Menseregte:
Ek as leerder erken die menswaardigheid en gelykheid van alle mense en onderneem om my regte so uit te oefen dat ander mense nie deur my optrede benadeel word nie.
1.2 Respek vir onderwysers:
Ek as leerder respekteer onderwysers as ons opvoeders en beloof my heelhartige samewerking in alle redelike opdragte wat ek van die op-voeders mag ontvang. Ek onderneem om my volle samewerking aan opvoeders te gee en altyd hoflik teenoor hulle op te tree.
1.3 Respek vir nie-onderwyspersoneel en besoekers:
Die bydraes tot die gladde verloop van die skoolorganisasie deur ad- ministratiewe personeel en terreinwerkers word hoog aangeslaan. Daarom sal ek as leerder ook teenoor hierdie personeel met agting en respek optree. Besoekers aan die skool dra die skool se welsyn op die hart en sal met respek en hoflikheid bygestaan word waar nodig.
1.4 Erkenning van multikulturaliteit en andersheid:
Die Suid-Afrikaanse gemeenskap bestaan uit ´n veelheid van rasse en kulture. Ek as leerder respekteer alle mede-leerders as individue. Ek is bewus daarvan dat hulle soortgelyke ideale en doelwitte as ekself mag nastreef, maar dat hulle ook hul eie ideale mag hê. In ons skool streef ons om deur kennis en begrip van al die kulture in ons land, ons- self voor te berei om ´n sinvolle bydrae te maak en om eendag ons plek vol te staan as burgers van ons pragtige land.
1.5 Respek vir die omgewing en skoolfasiliteite:
Die natuurlike omgewing is ´n geskenk van God en as leerder aanvaar ek die opdrag en gesamentlike verantwoordelikheid vir die bewaring daarvan. Ek waardeer die skoolgeboue, klaskamerinhoude en ander fisiese geriewe wat vir ons gebruik beskikbaar gestel is. Ek onder- neem om op ´n verantwoordelike wyse daarvan gebruik te maak en, vir sover dit binne ons vermoë is, ´n bydrae tot die instandhouding daarvan te lewer.
1.6 Gehoorsaamheid aan organisatoriese- en gedragsreëls:
As leerder begryp ek dat ´n skool nie sonder organisatorie en gedragsreëls kan funksioneer nie, daarom lê ek my neer by die skool se reëls vir leerdergedrag. Ek onderneem om die tydrooster van die skool te eerbiedig deur stiptelik teenwoordig te wees by die aanvang van die skooldag en elke periode. Ek aanvaar die gesag van die persone in bevel van orde en dissipline in die skool en sal my aan toepaslike strawwe onderwerp indien ek oortree.
1.7 Buitemuurse aktiwiteite:
As leerder besef ek die vormingswaarde van sport– en kulturele aktiwiteite, sowel as akademiese- en sosiale uitstappies en wil graag as ´n aktiewe deelnemer of lojale ondersteuner betrokke wees. Toepaslike kleredrag en ´n netjiese voorkoms by geleent- hede dra by tot die uitbouing van ´n positiewe beeld van die skool. Ek onderskryf die feit dat skoolreëls ook by uitstappies of ander buite-kurrikulêre aangeleenthede moet geld, ter wille van die goeie orde en die skool se goeie naam.
1.8 Voorkoms:
Uniforme skooldrag dra by tot eenheid van sin en strewe. Die skoolwapen versinnebeeld die gesamentlike strewe van leerders, ouers en personeel. Omdat die voorgeskrewe skooldrag en ge- paardgaande reëls van voorkoms, die tradisionele waardes van die skool en die gemeenskap verteenwoordig, sal ek as leerder die skooldrag met trots dra en die voorskrifte van persoonlike voorkoms wat die skooldrag komplimenteer, nakom.
1.9 Veiligheid:
Ter wille van my eie veiligheid sal ek tydens klaswisseling op die skoolterrein, met uitstappies en op die sportveld poog om deur my optrede nie my eie of ander persone se veiligheid in gevaar te stel nie.
1.10 Akademiese aangeleenthede:
Leerders kan alleen baat vind by onderwys indien hulle intensief by die leergebeure in die klaskamer betrokke raak. Daarom sal ek as leerder positief aan klasaktiwiteite deelneem. As leerder keur ek gedrag af wat ontwrigtend op die onderrigproses inwerk. Ek bese die waarde van huiswerk en sal dit getrou doen. Omdat die uit- koms van assessering vir my as leerder van groot waarde is, sal ek pligsgetrou vir assesseringsgeleenthede voorberei. Eerlikheid is deel van ‘n onkreukbare karakter en daarom sal ek te alle tye honderd persent eerlik wees tydens assessering en nie toelaat dat ander persone oneerlik optree nie.
1.11 Rolpersepsie:
Leerders is ook daarvoor verantwoordelik om ’n bydrae te lewer tot die ordelike verloop van gebeure tydens en na skool. Leerders het op verskeie gebiede die geleentheid om ´n bydrae te lewer wat skoolbestuur kan verbeter, hetsy as lid van die Wouwtjieraad, klasleier, spankaptein, ens. As leerder moet ek die belange van die skool vooropstel en nie persoonlike begunstiging of bevoordeling soek nie. Ek moet daarna streef om die skool se kultuur, tradisies en karakter te bewaar en te versterk.
2. REËLS WAT AANVAARBARE GEDRAG UITSPEL:
2.1 SKOOLBESOEK:
• Elke leerder woon die skool gereeld en getrou by.
• Indien ’n leerder weens siekte of ander rede afwesig is, moet ouers die skool per brief via die voogonderwyser in kennis stel.
2.2 KLEREDRAG EN VOORKOMS:
2.2.1 Riglyne oor die dra van skooldrag:
Amptelike en na-uurse skoolaktiwiteite moet in die regte skooldrag plaasvind soos voorgeskryf.
2.2.2 Standaard skooltasse:
’n Stewige skooltas wat die boeke beskerm.
2.2.3 Riglyne ten opsigte van hare:
– Prakties, skoon en netjiese styl vir dogters.
_ Praktiese, skoon, kort en netjiese styl vir seuns.
– Hare mag nie gekleur word nie.
– Dogters met lang hare word versoek om dit netjies vas te maak. Indien lint vir dié doel gebruik word, moet die kleur wit , blou of maroen wees.
2.2.4 Riglyne ten opsigte van juwele en versiersels:
– Geen grimering.
– Geen juwele en versiersels (behalwe S.O.S).
–Naels: Netjies, kort en nie gekleur nie.
– Dogters mag een gaatjie per oor hê vir ’n ringetjie (nie groter as 10 mm) of metaalknoppies (“studs”).
2.3 IN DIE KLASKAMER:
· Alle opdragte van die onderwyser moet noukeurig uit-gevoer word.
· Huiswerk moet aangeteken word en stiptelik voltooi word.
· Daar mag onder geen omstandighede op meubels, toerusting en in handboeke geskryf of gekrap word nie.
2.4 BUITE DIE KLASKAMER:
· Elke leerder is medeverantwoordelik om kleedkamers, stoepe en die terrein netjies en sindelik te hou.
2.5 VERLAAT VAN TERREIN GEDURENDE SKOOLURE:
· Niemand mag die terrein sonder toestemming verlaat nie - ook nie gedurende pouses nie.
· ’n Leerder wat gedurende skoolure die terrein wil/moet verlaat, moet deur ’n ouer of ’n gevolmagtigde in die kan- toor uitgeteken word.
2.6 BESERINGS OF SIEKTE TYDENS SKOOLURE:
· Indien ’n leerder gedurende skoolure ’n besering opdoen of siek word, moet dit onmiddellik by die kantoor gerap- porteer word.
· ’n Beseerde of siek leerder mag slegs deur die ouers self, of ‘n gevolmagtigde, by die skool afgehaal word.
· In ’n noodgeval word toestemming deur die hoof gegee.
2.7 KLASWISSELING:
· Leerders beweeg ordelik in rye tydens die verwisseling van klasse.
2.8 BUITEMUURSE AKTIWITEITE:
· Leerders moet in samewerking met hul ouers besluit aan watter aktiwiteite hulle wil deelneem.
2.9 FIETSE:
· Geen fietse en fietsryery (en ander soos skaatsplanke) word op die stoepe, paadjies, die parkeerterrein tussen motors of in die amfiteater toegelaat nie.
3. AANPRYSINGS EN TUG:
3.1 AANPRYSINGS:
Die doelwit van aanprysings is om:
· leerders tot verantwoordelike, selfstandige besluitneming op te voed.
· ’n sterk pligsbesef by leerders te kweek.
· erkenning te gee aan prysenswaardige optrede.
Aanprysings word op ´n deurlopende grondslag toegeken vir aspekte soos inisiatief, eerlikheid, leierskapprestasie en gesindheid.
3.2 TUGMAATREËLS EN TOEPASSING VAN TUG:
3.2.1 DAG-TOT-DAG TOEPASSING VAN DISSIPLINE
3.2.1.1 PROSEDURE
Ten einde dissipline te handhaaf en ´n leerder se oortredings en onaanvaarbare gedrag te kontroleer, word die volgende maatreëls deur onderwysers toegepas:
· Elke onderwyser beskik oor ‘n detensieboek waarin oortre- dings aangeteken word.
· Die leerder mede-onderteken die kennisgewing van oortre- ding saam met die onderwyser, waarna dit tuis deur die ouer onderteken moet word vir kennisname.
· Die volgende skooldag word die nodige kontrole deur die betrokke onderwyser uitgeoefen om vas te stel of die oortre- ding(s) wel deur ‘n ouer onderteken is.
· Ouers sal ‘n week voor die detensie plaasvind, skriftelik daarvan in kennis gestel word.
· Kennisgewings van detensie moet deur die ouer onderteken en aan die skool teruggestuur word.
· Ouers word derhalwe versoek, om ter wille van dissipline en gesonde opvoedingsbeginsels, op ´n gereelde grondslag aan- dag hieraan te gee.
3.2.1.2 BENADERING
‘n Beleid van positiewe intervensie word gevolg voordat strawwe opgelê word.
3.2.1.3 DETENSIEKLASSE
Die doel van detensieklasse is:
· ‘n korrektiewe maatreël om leerders te maan tot gedissiplineerde optrede.
· Gemeenskapsdiens mag tydens detensie gedoen word wat tot voordeel van die skool strek, bv. klasse skoonmaak of konstruktiewe skoolwerk.
· ‘n Detensieklas wat nie bygewoon word nie (sonder ‘n geldige rede), word verdubbel.
· Na drie kategorie 1, of een kategorie 1 plus een kategorie 2 oortredings, of een kategorie 3 oortreding, sal ‘n leerder op ‘n Vrydagmiddag vanaf 13:00 tot 14:30 terug- gehou word vir detensie.
‘n Aantal opeenvolgende pouses sal ook in uitsonderlike gevalle met die goedkeuring van die skoolhoof vir detensie oorweeg word. Oortredings word nie oorgedra na ‘n volgende kwartaal nie, maar indien ‘n patroon van oortredings opgemerk word, sal individuele gevalle volgens meriete hanteer word.
3.2.2 KATEGORIE OORTREDINGS
a) Kategorie 1-oortredings:
Sluit minder ernstige oortredings in soos:
* Wanordelik aantree in wisseling
* Huiswerk nie voltooi nie
* Boeke tuis vergeet
* Loop sonder gangpas
* Mediaboeke laat terugbring
* Nie voorgeskrewe skooldrag
* Selfone nie afgeskakel - ongemagtigde gebruik van fone
* Laatkom vir klasse
* Reageer nie op opdragte nie
* Boeke en toetse nie geteken nie.
* Verkeerde toesigklas
* Speel op verkeerde terrein
* Nie opdaag vir diens (leiers)
* Papierstrooiing
* Laat inhandiging van opdragte
* Slordige voorkoms
b) Kategorie 2-oortredings:
Hierdie oortredings sluit in:
* Algemene negatiewe benadering jeens detensiestelsel
* Ontwrig klasdissipline
* Vloek - swak taalgebruik
* Ongeskikte gedrag
* Wegsteek / verniel van mede-leerders se tasse/besittings
* Ongeskik met onderwysers - disrespek
* Bakleiery / boelie
* Onwelvoeglike SMS-boodskappe stuur aan mede-leerders
* Betreding van ongemagtigde terrein
* Ondermyning van gesag
* Wangedrag in die klas
* Eet en drink in die klas (kougom)
* Glad nie opdaag indien skool verteenwoordig moet word
* Klas verlaat sonder toestemming
c) Kategorie 3-oortredings:
Enige oortreding soos in die SA Skolewet 1996 uiteengesit, bv:
* Diefstal
* Aanranding
* Massa-optrede
* Rasse-konflik
* Besit van pornografiese materiaal
* Ongeoorloofde SMS-boodskappe
* Oneerlikheid in toetse en eksamens
* Valse identifisering van jouself en medepligtigheid
* Versuim om aan ‘n bestraffing of opskorting as korrektiewe maatreël te voldoen
* Leuens, van watter aard ookal, om skool-/sportaangeleenthede te ontduik
* Drank– en dwelmgebruik en die besit daarvan
* Seksuele teistering en wandade
* Ernstige ontwrigting van skoolroetine
* Opsetlike saakbeskadiging
* Bewese satanisme
* Vervalsing van enige aard
* Dros uit klasse
* Skoolterrein verlaat sonder toestemming
Hantering / optrede t.o.v. Kategorie 3-oortreding
* ‘n Kategorie 3-oortreding word deur die Dissiplinêre Hoof/komite en Skoolhoof ondersoek. Daar sal ‘n onderhoud met die ouers en leerder(s) gevoer word en afhangende van die aard van die oortreding, sal die saak aan die Dissiplinêre Komitee van die Beheerliggaam deurgegee word. ‘n Dissiplinêre verhoor kan volg, waartydens die leerder tydelik geskors kan word, of ‘n ander gepaste straf opgelê kan word. Daarna kan ‘n aanbeveling aan die Departementshoof van die GDO gedoen kan word vir permanente skorsing.
* Indien die aangeleentheid steeds nie afgehandel is nie, kan appél aangeteken word na die volle Beheerliggaam.
3.2.3.TOEPASSING VAN TUG
3.2.3.1 ALGEMENE BEPALINGS
a. Enige leerder wat weier of versuim om die bepalings en reëls van die Wouwtjie-onderneming na te kom , maak hom/haar skuldig aan ‘n oortreding van die Wouwtjie- onderneming en is vatbaar vir dissiplinêre optrede en die oplegging van strafaksies in terme van die Wouwtjie- onderneming.
b. Die Beheerliggaam het die diskresionêre bevoegdheid om in oorleg met en onderhewig aan die bepalings van die Skolewet 84 van 1996 en die riglyne neergelê deur die Departement van Onderwys die aard en omvang van die strafaksies teen leerders te omskryf of te wysig indien nodig.
c. Sonder om enigsins afbreuk te doen of beperkings te plaas op die diskresionêre bevoegdheid van die Beheer- liggaam, waarna hierbo verwys, mag leerders enige van die volgende strafaksies opgelê word by die oortreding van die reëls soos uiteengesit in die Wouwtjie- onderneming.
* Detensie;
* Gesprekvoering met beide ouers en/of voogde van die leerder;
* Verwys word vir berading;
* Ontheffing van ‘n skoolamp;
* Tydelike skorsing van klasbywoning;
* Skorsing van skoolaktiwiteite;
* Uitsetting uit die skool in oorleg met die
Departement van Onderwys; of
* Enige ander straf wat in bepaalde gevalle in oorleg met die riglyne van die Departement van Onderwys as gepas beskou word.
3.2.3.2 DISSIPLINÊRE STRUKTUUR
a. Die Beheerliggaam dra die verantwoordelikheid vir die toepassing van die bepalings van die Wouwtjie-onder- neming en is die finale gesag vir implementering van die dissiplinêre proses.
b. Die Beheerliggaam sal in die toepassing van die dissiplinêre proses bygestaan word deur ‘n onafhanklike Dissiplinêre Komitee.
c. ‘n Onafhanklike Dissiplinêre Komitee sal bestaan uit die Beheerliggaamlid belas met dissipline asook vier ander lede wat deur die Beheerliggaam aangewys word welke lede nie lede van die Beheerliggaam sal wees nie.
3.2.3.3 DISSIPLINÊRE PROSEDURE
a. Die Skoolhoof, of in sy afwesigheid die Adjunkhoof, of in beide se afwesigheid die Waarnemende Hoof, bepaal of ‘beweerde oortreding van so ‘n ernstige aard is dat dit na die Dissiplinêre Komitee vir afhandeling verwys moet word.
b. Die Skoolhoof sal, in samewerking met die lid van die Be- heerliggaam verantwoordelik vir dissipline, ‘n klagte formuleer vir voorlegging aan die Dissiplinêre Komitee, tesame met bewysstukke, indien enige, en ‘n lys van getuies wat deur die komitee in sy ondersoek genader mag word.
c. Die Dissiplinêre Komitee ondersoek en verhoor alle dis- siplinêre aangeleenthede wat deur die Skoolhoof na die ko- mitee verwys word.
d. In alle gevalle waar die Dissiplinêre Komitee ‘n dissiplinêre aangeleentheid oorweeg sal dit geskied in die teenwoordig- heid van die leerder en die leerder se ouers of voogde.
e. ‘n Leerder en sy ouers of voogde sal tydens die ondersoek van die Dissiplinêre Komitee vertoë mag lewer ten aansien van:
i) die beweerde oortreding; en
ii) enige straf wat opgelê mag word en sal ook geregtig wees om enige toepaslike getuies te roep.
f. Indien die Dissiplinêre Komitee na voltooiing van sy onder- soek ‘n leerder skuldig bevind aan enige oortreding gelys in die Wouwtjie-onderneming mag enige van die gepaste von- nisse en strawwe wat hierin uiteengesit is, die leerder opgelê word.
g. Waar die Dissiplinêre Komitee van mening is dat:
* skorsing van skoolaktiwiteit; of
* uitsetting uit die skool
die gepaste straf is, moet die aanbeveling skriftelik vir be- kragtiging aan die Beheerliggaam voorgelê word.
h. Indien die Beheerliggaam die aanbeveling van die Dis- siplinêre Komitee bekragtig, word ‘n voorlegging aan die De- partementshoof van Gautengse Departement van Onderwys
gemaak met ‘n versoek dat die betrokke leerder van skoolaktiwiteite opgeskort word of uit die skool gesit word. Die leerder sal, terwyl daar op terugvoer van die Departement gewag word, tydelik van bywoning van die skool geskors word.
i. ‘n Leerder mag na skuldigbevinding en strafoplegging deur die Dissiplinêre Komitee vertoë ten aansien van beide tot die Beheerliggaam rig, wie as die finale instansie ‘n bevinding moet maak ten aansien van beide die meriete van die skuldigbevinding en enige straf wat opgelê is.
j. Enige skuldigbevinding of strafoplegging van die Beheerliggaam word as finale bevinding of strafopleg - ging beskou met geen verdere reg op appél deur ‘n leerder nie, behalwe sover Artikel 9 van die Skolewet, 84 van 1996, voorsiening maak vir verdere appél na die
Departement van Onderwys.
4. SKORSING EN UITSETTING:
Behoudens die bepalings van die Skolewet en die toepaslike provinsiale wet, kan die Beheerliggaam, na ’n regverdige verhoor, ’n leerder skors van bywoning van die skool: –
(i) as ’n korrektiewe maatreël vir ’n tydperk wat nie een week te bowe gaan nie; of
(ii) in afwagting van ’n beslissing deur die Departementshoof of die leerder uit die skool gesit moet word, al dan nie.
Behoudens enige toepaslike provinsiale wet, mag ’n leerder by ’n openbare skool uit die skool gesit word slegs: –
(i) deur die Departementshoof van die Gautengse Departement van Onderwys; en
(ii) indien hy of sy na ’n regverdige verhoor, skuldig bevind is aan ernstige wangedrag.
Die Lid van die Uitvoerende Raad belas met Onderwys van die Gauteng Provinsie bepaal, d.m.v. kennisgewing in die Provinsiale Koerant –
(i) die gedrag van ’n leerder by ’n openbare skool wat as ernstige wangedrag beskou word;
(ii) dissiplinêre prosedures wat in sodanige gevalle gevolg moet word;
(iii) bepalings van ’n behoorlike regsproses om die belange van die leerder en enige ander party wat by dissiplinêre handelinge betrokke is, te beskerm.
´n Leerder of die ouer van die leerder wat uit ’n openbare skool gesit is, kan teen die beslissing van die Departementshoof appél aanteken by die Lid van die Uitvoerende Raad belas met onderwys van die Gauteng Provinsie.